082 897 9555   info@eduan.co.za   

Eduan Miniature Horse News


Small in Stature, Bin in Benefits

Farmer's Weekly

When Gawie Naudé first bought two Miniature Horses as pets for his son Willem 25 years ago, he couldn’t imagine that these petite animals would become an important, award-winning part of his stock farming enterprise. Mike Burgess visited the Naudés on Buttermead farm. Click here for full article

Eduan Miniature Horse Big Benefits

 

 

Miniatuurperde help pot aan die kook hou

Landbouweekblad 

Die prentjiemooi plaas waarop mnr. Willem Naudé van Rhodes saam met sy pa met Braunvieh-beeste boer, is klein. Gelukkig help die Miniatuurperdjies, wat eers net 'n stokperdjie was, maar nou ook as stoetery bedryf word, om die boerderyinkomste aan te vul. Kliek hier vir volledige artikel.

Miniatuurperde Hou Pot Aan Die Kook

 

 

CEVA Voortreflikheidstoekenning

SA Stamboek

'As 'n vul gebore word, is dit soos 'n geskenkpakkie wat oopgemaak word. Dit sorg vir groot opgewondenheid,' sê Gawie Naudé, wat sedert 1976 op sy familieplaas Buttermead by Rhodes boer. Terwyl daar al vir jare op Braunvieh beeste en Merinoskape gekonsentreer word, het Gawie in die tagtigerjare twee miniatuurperdjies aangeskaf as troeteldiere vir sy seun, Willem. Hy het egter gou agtergekom daar is groter belofte in hierdie perdjies as net troeteldiere. Kliek hier vir volledige artikel.

CEVA Voortreflikheidstoekenning

 

 

Maak geld met perdjies

Theuns Botha (landbou@mweb.co.za)
           Landbouweekblad, 20 Julie 2007

Miniatuurperdjies was eens die speelgoed van konings en die adelstand. Vandag is dit binne bereik van almal. Dit is nie net terapeuties om hulle aan te hou nie, daar is ook geld te maak uit die regte soort.

Hulle het die "ag, moeder-faktor". As jy die perdjies die eerste keer sien, veral as dit 'n opregte minia-tuurtjie is, vermurwe jou hart en wil jy hulle net optel en teen jou vasdruk. Hulle word hondmak en eet uit jou hand. Is ook nie 'n las in tuine nie en veral kinders is gaande oor hulle.

Die geskiedenis van die Miniatuurperd is meestal op oorlewering gegrond. Aantekeninge oor dié ras in 'n amptelike publikasie van die SA Stamboek wat in 1998 uitgegee is, meld dat hulle in die 16de eeu in Wes-Europa ontstaan het en uit die Shetlandponie geteel is. Ander bronne beweer egter dat beendere wat in die grafte van die Egiptiese farao' gevind is, lank vóór die koms van Christus reeds op die bestaan van dié klein perdjies gedui het.

En, so word vertel, dit was glo geskenke aan die farao' se vroue. Ook Eugenie, die derde vrou van Napoleon, het só 'n perdjie besit wat haar waentjie getrek het. Daar is ook die miniatuur-Falabellas van Argentinië wat as 'n afsonderlike ras beskou word.

Wat hul herkoms ook al is, hulle is pragtige, innemende en saggeaarde diere wat maklik hanteer, sê mnr. Gawie Naudé van die plaas Buttermead in die Rhodes-distrik, wat vier jaar gelede sy stoetery geregistreer het. Hy is die huidige voorsitter van die SA Miniatuurperd-telersgenootskap.

Naudé se eerste kennismaking met dié perdjies was in 1986 toe hy vir sy seun Willem, wat toe vyf jaar oud was, twee troetelperdjies, Sikspens en Tiekie, gekoop het. Albei was hingste. Drie jaar later, het hy twee merries, Penny en Oortjies, by 'n polisieman op Barkly-Oos gekry. Dit was die begin van die telery op die familieplaas Buttermead, aan die oewer van die Bellrivier, wat die afgelope 20 jaar al vir die gesin groot vreugde verskaf.

Naudé sê elkeen van die meer as 50 perde wat hy het, het 'n eie persoonlikheid. "Daar is nie 'n beter terapie as om ná 'n dag se harde werk tussen hulle hier in die tuin te kom sit en 'n geselsie aan te knoop nie. Eintlik is hulle diere wat op elke gasteplaas in die land hoort."

Hy vertel dat die perdjies as troeteldiere baie gewild is. "Met 'n Minia-tuurperd is dit soveel makliker om 'n kind selfvertroue ten opsigte van die versorging, hantering en die ry van perde te gee. Ouer mense, met 'n liefde vir perde, wat nie meer die groot diere kan hanteer nie, put baie genot uit die klein perdjies.

"Miniatuurperde kan ook as gidse vir blinde mense opgelei word. Die voordeel bó gidshonde is dat hulle tot 30 jaar oud word. Ook kinders wat spierdistrofie en ander gebreke het, kan by die perdterapie baat vind."

Willem (26) bevestig dat sy perdjies hom ook tot groter perde aangetrokke laat voel het. "Die lekkerste is dat dit 'n besigheid vir ons geword het wat baie maklik by die res van die veeboerdery op die plaas inskakel. Hulle kan geleer word om self op 'n bakkie of in 'n stasiewa te klim, wat vervoer maklik maak. Iemand het by ons 'n perdjie gekoop wat hulle selfs op vakansies na die see vergesel."

Omdat Miniatuurperde oor die algemeen duurder as gewone perde is, kan iemand wat hulle teel goed geld maak, mits die stoetery reg bestuur en die gewenste teelmateriaal aangeskaf word, benadruk die Naudé'.

Die prys van teelmerries wissel gewoonlik van R5 000 tot R10 000 en vir hingste van R15 000 tot R20 000 stuk. Iemand wat hulle egter bloot as troeteldiere wil aanskaf, kan verwag om vir 'n reun sowat R4 000 stuk te betaal. Die Naudé' beveel aan dat 'n merrie of 'n reun as troetelperd aangeskaf word, omdat die hingste geneig is om temperamenteel te wees en moeilik deur kinders gehanteer sal word.

Hy sê die perdjies eet net soveel soos 'n skaap. Hoewel hulle 'n lae onderhoudsbehoefte het, kan gewone perderantsoene wat op die mark beskikbaar is, as aanvulling vir hulle gegee word. Hoe fyner die diertjies is, hoe meer pieperig raak hulle, veral dié met 'n nou bors. Perdjies met blou oë kom taamlik algemeen voor.

Die Naudé' verkies perde wat nie te klein is nie. "Ons strewe na 'n klein, maar goed gebalanseerde dier met die regte konformasie en 'n goeie temperament. Die merries moet moederlikheid uitstraal, terwyl die hingste gespierd en op en wakker moet vertoon."

Hul raad is dat enigeen wat met 'n stoetery wil begin, aanvanklik net drie merries en 'n hings aanskaf (sien berig hiernaas). "Ek het al te veel mense gesien wat meer as R100 000 belê en dan teleurgesteld is met die opbrengs op hul kapitaal. Stoetteling is 'n lang en toegewyde proses. Dit is ook raadsaam om eers 'n beoordelaarskursus te doen of skoue by te woon om te sien watter eienskappe die belangrikste is."

Naudé sê dit is vir telers noodsaaklik om aan skoue deel te neem. "Dit is hier waar hy bekendheid verwerf en sy eie diere met dié van ander telers kan vergelyk. Daar is verskeie klasse, waaronder teel, ry, hoogspring, dryf- en kostuumklasse. Om aan skoue deel te neem, is egter nie goedkoop nie. Dit is al die toebehore wat daarmee saamgaan, wat jou heelwat geld kan kos."

Die grootste bedreiging vir die ras is perdesiekte en daarom is dit noodsaaklik dat hulle jaarliks daarteen ingeënt word.

Hy sê omdat die perdjies soos kinders vir hul eienaars word, is daar baie sterk mededinging tussen die telers. Trouens 'n paar jaar gelede het 'n paar telers wat nie gelukkig was nie, uit die genootskap weggebreek en in Namibië 'n genootskap gaan stig. "Dit sal 'n heuglike dag wees as hulle hul weer by ons aansluit. Die huidige raadslede werk baie lekker saam en is goed oor die land versprei om almal se belange te bevorder."

Ofskoon die perde oor die hele land aangetref word, is die grootste konsentrasie in Noordwes en Gauteng. Ook in die Wes-Kaap is daar ál meer mense wat hulle aanskaf omdat dit 'n groot toeriste-attraksie op die wynplase is, sê Naudé, wat ook met Braunvieh-beeste en Merino' boer. Die Eduan-boerdery is in 1936, deur sy oupa begin.

Begin só met stoetery Volgens die reëls van die SA Miniatuurperd-telersgenootskap kan merries van tot 95 cm hoog en wat aan die rasstandaarde voldoen, in die register opgeneem word. Merries van 95 cm tot 100 cm, wat die regte bouvorm het, kan in die hulpstamboek geregistreer word.

Om vir registrasie in aanmerking te kom, mag hingste egter nie 90 cm oorskry nie. Reuns wat aan skoue deelneem, moet nie hoër as 100 cm wees nie.

Die perdjies kom in enige denkbare kleur. Sommige telers verkies dié met vaste kleure. Dié met kolle, wat baie na die Appaloosa lyk, is baie gewild. Wanneer die perdjies vir stoetdoeleindes gekeur word, word daar nie op grond van kleur teen die diere gediskrimineer nie.

Mense wat 'n stoetery wil begin, maar nie dadelik baie geld wil uitgee nie, kan 'n opgraderingstelsel gebruik. Die nie-geregistreerde merries wat ingebring word, staan as 'n A-dier bekend. Haar vul sal 'n B-dier wees. Die daaropvolgende aankomeling van die B-dier kan as raseg geregistreer word, mits die hings ook geregistreer is. Perde wat in 'n stoetery opgeneem word, word op die ouderdom van twee en 'n half jaar en weer op vyf jaar deur die genootskap gekeur.

Die telersgenootskap, wat in 1984 deur 11 telers gestig is, bestaan uit meer as 60 geregistreerde stoeterye in die land, met ongeveer 800 geregistreerde diere en meer as dubbel dié getal diere wat nie geregistreer is nie.

Oor die afgelope 25 jaar het die perdjies nie net kleiner geword nie, maar was daar 'n groot verbetering in hul algemene voorkoms, beweeglikheid en konformasie. Dit is veral ingevoerde teelmateriaal uit Amerika, waar daar nou meer as 160 000 geregistreerde Miniatuurperde is, wat hiertoe bygedra het.



GAWIE NAUDE
082 897 9555
gawien@telkomsa.net
WILLEM NAUDE
082 775 7067
willem.naude@vodamail.co.za




PO Box 105
Buttermead
Barkly-East
9786



© Eduan. All Rights Reserved. No article or picture may be reproduced\published without the written consent of Eduan.